February 5, 2021

Landbou Feature: Dié vasvatter-vrou

Ek het altyd geglo mense is gelyk en het gelyke vermoëns en jy pak dit so aan.”

Dié vasvatter-vrou is die hoof van een van SA se voorste bees- en vleisondernemings, waar jy jou man moet staan! “Ek het nooit gedink ek moet myself in ’n manswêreld probeer bewys nie. Ek het altyd geglo mense is gelyk en het gelyke vermoëns en jy pak dit so aan.”

Dis ’n dag ná internasionale vrouedag en aan die woord is me. Estelle van Reenen, bestuurshoof van Sparta, een van Suid-Afrika se voorste bees- en vleisondernemings. As een van die deelnemers aan die TV-program Megaboere het sy tydens die US Woordfees in gesprek getree met proff. Mohammad Karaan, dekaan van die fakulteit landbouwetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch, en Johann Kirsten, hoof van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek in die Eikestad.

“By enige kongres of vergadering hoef ek nie in die ry te staan by die toilette nie!” spot sy, maar in die vleisbedryf, waar mans dikwels oorheers, het sy gevoel wat onderdrukking is. Vir dié kalm, sterk leier was dit egter nie ’n probleem nie, maar eerder ’n uitdaging.

Hulle verwag nie dat ’n vrou dit sal weet nie
“Mense kyk maar neer op jou en dink jy’s onintelligent en hulle verwag nie van ’n vrou om so baie te weet nie. Aan die begin kon ek dit eintlik goed gebruik, want ek kon inligting by ander kry wat hulle nie gewoonlik met mededingers sou deel nie, want ek is mos ‘net’ ’n vrou.”

Sy het jonk-jonk al besluit sy gaan nie van ’n man afhanklik wees nie.
“Dit was nie die opsigtelike onderdrukking van vroue nie, maar eerder die afhanklikheid wat hulle van mans gehad het, wat my gepla het. Vandat ek rasioneel kon dink, het ek besluit dis iets wat ek nie wil wees nie.”

Aan hoof van ’n enorme onderneming
Sy het sowat agt jaar gelede die leisels oorgeneem by Sparta, ’n geïntegreerde bees- en vleisbesigheid waar op enige gegewe tyd sowat 100 000 beeste loop. Die onderneming het ook ’n slagplaas en vleisverwerkingseenheid waar ontbening en verpakking plaasvind.

Hulle neem sowat 1500 mense in diens en lewer vleis regoor Suid-Afrika, onder meer vir Spar.

Estelle het ná haar graad, B.Com Regte op Maties, tien jaar lank as prokureur gepraktiseer voor haar pa, Dirk, haar genader het om by die familie-onderneming betrokke te raak. Daarna het ses maande se onderhandelinge gevolg voor sy by Sparta aangesluit het.

“Dit was ’n lang storie, veral as jy groot geword het in as kind in ’n generasie wat nie geglo het in die vermoë van vrouens nie. Ek dink dit was selfs vir ons eie pa moeilik. Die belangrike ding in ons familie is egter om te kyk wat almal se beste punte is en hulle dan op plekke in die besigheid te plaas sodat hulle hul kan uitleef. Uiteindelik was dit ’n baie natuurlike proses.”

Broer en suster
Haar suster, Lynette, is verantwoordelik vir die onderneming se kommunikasie-afdeling en haar broer, Lou is die voorsitter van die raad.

Estelle se groot dryf sedert sy by Sparta aangesluit het, was om ’n sterk kombinasie van mense en tegnologie daar te stel.

“Ek glo nie daaraan om net mense aan te stel wat dink en voel soos jy nie. Jy het ’n volkome bestuurspan met verskillende eienskappe nodig. Ek is ’n baie inklusiewe leier, maar ook net tot op ’n punt. Ek maak besluite deur insette te kry van al die bestuurspanne, maar ek glo ook in vinnige besluitneming. ’n Mens moenie talm oor goed nie. Jy moet ook nie ’n vrees hê om te faal nie. As jy nie bereid is om te spring en brawe treë te gee nie, gaan jy nie vorentoe gaan nie.”

Meisies kan president word
Karaan het Hillary Clinton aangehaal wat die wens uitgespreek het dat geen meisie moet grootword met die idee dat sy nie president kan word nie.

“Daar moet ook nooit meisiekinders in ons samelewing wees wat dink hulle kan nooit Estelle van Reenen, die hoof-uitvoerende bestuurder van ’n groot maatskappy, word nie. Sy moet doelbewus met groter bravado vir die wêreld van haar sukses vertel sodat daardie meisiekinders – wat 50% van die bevolking is – geïnspireer kan word.”

Share

Recommended for you

November 26, 2021
February 22, 2022
March 24, 2022